Over: Karel Schoeman - Het uur van de engel
Karel Schoeman: Die uur van die engel
Chris van der Merwe (LitNet: Leeskringe)
Wanneer ek oor Karel Schoeman se werk skryf of praat, het ek altyd ’n bietjie daardie benoude gevoel op die maag wat ek gehad het toe ek vir die eerste keer ’n geliefde na die huis gebring het. ’n Mens was so bang jou mense sal nie haar waarde insien nie. Jy weet wel dat sy haar kwasterigheid het, haar dinge waaraan mens gewoond moet raak, maar jy hoop so almal sal insien dat sy in der waarheid haar gelyke nie het nie.
Die uur van die engel is ’n boek waarmee baie lesers al probleme gehad het, en nie net onervare en ongeskoolde lesers nie. Baie mense, ook literatore, reken dat die boek darem te traag voortbeweeg, dat dit darem veel gevra is om vir byna vierhonderd bladsye te lees aan ’n verhaal wat eintlik nie ’n verhaal is nie, wagtend op iets om te gebeur wat nie bra gebeur nie. Die skrywer het self waarskynlik hierdie besware geantisipeer, en antwoord indirek daarop in sy roman.
Nico Breedt, die televisiemaker en skrywer wat na sy geboortedorp kom op soek na gegewens oor die mistieke digter Danie Steenkamp, gesels met tannie Duifie, die kurator van die plaaslike museum, oor Steenkamp se verse. Nico besef dat die tema waarin hy belangstel, nie vir die televisie geskik is nie: “‘Mens moet darem ook dinge wys wat gebeur, een of ander handeling … Mense hou nie daarvan om te lank te moet kyk nie (…) Hulle raak baie gou verveeld, net ’n paar sekondes dan wil hulle nie meer konsentreer en inneem wat mens hulle wys nie.’”
Tannie Duifie het baie wysheid — die duif is immers simbool van die Heilige Gees. Sy het ’n antwoord op Nico se argument: “‘Maar dis mos nonsens (…) Jy kan mense mos leer hoe om te kyk en te luister.’”
Tant Duifie tree op as verdediger van die gedigte van Danie Steenkamp en indirek as verdediger van Schoeman se roman wat Steenkamp se verse as tema het. Sy antwoord op die bedenkinge van Nico:
‘“In sy gedigte gebeur daar baie’”, en: “‘Wie’t dan ooit gesê gedigte moet maklik wees?’ werp sy teë op twee moontlike besware teen die roman, dié van ’n gebrek aan aksie en die ontoeganklikheid daarvan (bl. 52).
Nico meen nogtans dat sy tema nie vir die televisie geskik is nie, en besluit om liewer daaroor te skryf. Wat hy skryf, vorm dan die grootste deel van die roman wat die leser voor hom het.
Schoeman is op ’n indirekte manier hier in gesprek met die leser; hy wil die leser gereed maak vir wat kom. Op die moontlike kritiek dat die boek vervelig is, kom die teenkritiek teen die mense van vandag: dat hulle nie meer kan konsentreer nie, dat hulle te gou verveeld raak. Op die moontlike kritiek dat daar nie genoeg gebeur nie, is die antwoord dat daar wel baie in Steenkamp se poësie gebeur — maar dis nie oppervlakkige aksie, vol moord en doodslag en geweld nie. ’n Ontmoeting met God is immers ’n belangrike gebeurtenis. Die probleem lê nie by die tema en struktuur van die roman nie, maar by die mense van vandag vir wie ’n mens moet leer hoe om te kyk en te luister. In die roman gebeur daar baie, maar dis meestel onder die oppervlak, innerlik, subtiel — vir die meeste onsigbaar. Dis waarna die leser moet soek.
Nico Breedt kom uit die stad na sy plattelandse geboortedorp. Die stadslewe en televisiewêreld waarvan Nico deel is, is ’n dekadente wêreld, vol van mag- en eersug, onderlinge stryd en verraad. Dit blyk verder dat Nico gay is, en dat sy minnaar hom verlaat is. Hy kom dus as ’n ontnugterde mens na die dorp. Sy leë en eensame lewe motiveer sy belangstelling in Danie Steenkamp, want Steenkamp het dít gehad wat hy in die stad ontbeer: ’n sinvolle lewe en ’n ervaring van die aanwesigheid van God. In sy bestaan, van mens en God verlate, het hy ’n diepe behoefte om, soos Steenkamp, ’n engel op die pad te ontmoet.
Hy ontmoet in werklikheid waarskynlik ’n paar engele, hoewel in so ’n alledaagse gedaante dat hulle nie dadelik as engele herkenbaar is nie. Een van hulle het ek reeds genoem: tannie Duifie, met haar wysheid en hulpvaardigheid, wat haar blymoedigheid behou ondanks die feit dat sy ’n baie siek man het vir wie sy moet sorg, naas haar daaglikse werk as kurator. Sy gee vir Nico wysheid en waardevolle inligting vir sy ondersoek. Ook die dominee met wie Nico ’n kort gesprek voer, is moontlik ’n engel, dit wil sê ’n boodskapper van God — hy is vol idealisme en geesdrif, en werk hard om die gemeente meer geïnteresseerd in die Bybel te kry (bl. 86). Sy waarde word in die vertelling bevestig deur die gebruik van die ligmotief — tydens sy gesprek met Nico breek die winterson deur die wolke (bl. 73). Hy is waarskynlik die een op wie Nico later die karakter van dominee Heyns modelleer.
Die duidelikste “engel” wat Nico teenkom, is die naamlose boer wat hy ontmoet op soek na die graf van Danie Steenkamp. Hierdie ontmoeting met die boer is ’n hoogtepunt in die verblyf van Nico op die dorp. Daar is iets besonder geheimsinnigs aan die man — hy wys die omtrekke aan van die graf wat Steenkamp s’n moet wees, sonder om iets te sê (bl. 82). Hoe weet hy waar die graf is? Hoe slaag hy daarin om woordeloos iets so belangriks te kommunikeer? Hy lyk baie na ’n onverklaarbare hemelse wese. Hy wys na sy woonplek, maar daar is geen teken van ’n woning nie (bl. 80). Ook sy verdwyning het iets misterieus, soos die plotselinge verdwyning van ’n engel (bl. 89).
Hy gee Nico wat hy (Nico) nodig het: ’n sinvolle verduideliking van die verskynsel van engelebesoeke aan mense van die veld (bl. 85); hy leer Nico om opnuut te kyk na die predikant van die dorp en na tannie Duifie, om hierdie “engele” raak te sien (bl. 86-7); en hy getuig van sy tevredenheid om te bly woon naby Wonderkop, die koppie met sy assosiasies van ’n mistieke belewenis (bl. 88).
’n Mens kan van twee kante na hierdie geheimsinnige boer kyk. Jy kan hom beskou as ’n hemelse engel wat aan Nico verskyn, as ’n reïnkarnasie van die gestorwe Steenkamp om Nico op sy pad te lei, en wat vir hom wys waar hy (Steenkamp) begrawe lê. Daarteenoor kan hy “maar net” ’n boer wees, maar dan wel ’n engel in aardse gedaante, soos die dominee en tannie Duifie. Hy is ’n boaardse wese met ’n goddelike boodskap óf ’n gewone boer wat die stimulus is vir Nico se verbeelding, waaruit die romankarakter Danie Steenkamp gebore word. Hoe ’n mens ook al na hierdie boer kyk, binne die konteks van die roman is hy ’n engel — as “engel” gedefinieer word as boodskapper van God. Wat hier belangrik is, is die verskyning van die goddelike op aarde, waardeur Nico as skrywer met sy taak gehelp word en ’n aanduiding kry hoe om die leegheid van sy bestaan te vul met betekenis.
Wanneer Nico uit die dorp vertrek, is sy fisieke reis voltooi; maar dan begin sy eintlike reis van belang, ’n reis op soek na Danie Steenkamp. Dit is ’n reis wat, soos elke postmodernis sal weet, tekstueel van aard is, want daar is geen direkte toegang tot Steenkamp moontlik nie, maar alleen van teks tot teks. Nico kom in besit van twee uitgawes van die Steenkamp-verse — deur die onderwyser Jood en deur dominee Heyns. Hulle uitgawes is verskillende “herskrywings” van Steenkamp se oorspronklike liedere, wat op hul beurt neergeskryf is deur Steenkamp se suster. Dus, die oorspronklike ervaring is deur Steenkamp tot lied (teks) verander; dit is weer deur sy suster neergeskryf (sonder die musiek); en toe uitgegee en heruitgegee; en uiteindelik deur Nico tot teks gemaak; en agter al hierdie tekste is die maker van die teks wat die leser voor hom het: die roman van Schoeman. Om die oorspronklike ervaring te agterhaal, is ’n onbegonne taak; in elke teks gaan iets verlore. Die verlede is ’n vreemde “ander land”, soos wat die skrywer dit telkens stel.
Alhoewel Steenkamp se visioene van engele vanselfsprekend ’n persoonlike, subjektiewe ervaring is, soek Nico na iets wat intersubjektiewe betekenis het — anders word die soektog bloot ’n ondersoek na “sielkundige afwykings of paranormale verskynsels” (bl. 65). Die aanduidings is daar dat die soektog vrugte afwerp — die frase “iets het gebeur” klink soos ’n refrein deur die roman. Die roman eindig dan ook met die positiewe stelling: “Bo die vlammende takke, in die swaar, trillende waas van die hitte, stralend in daardie groot donker, het die engel van die Heer verskyn met wydgespreide vleuels, die hand opgehef”. Dit is wat gebeur het: die verskyning van ’n seënende engel aan ’n mens. Anders as wat Derrida beweer het, is hier wel iets buite die teks.
Buitewêreld en binnewêreld is op ’n besondere manier versmelt in Nico se reis na Danie Steenkamp. Die geografiese werklikheid wat uitgebeeld word, is dié van die Vrystaatse platteland — die weidsheid, die droogte, die koue. Maar landskap en mense groei ineen; die koue, donkerte en droogte is simbolies van die mense se innerlike tekort, en die leegheid van die landskap simboliseer die sinledigheid van die lewens, ook van Nico se lewe. Die sonlig en reën wat die duister en droogte verdryf, is deel van die Vrystaatse geografiese wêreld, maar ook tekens van die mense se ervaring van ’n goddelike aanwesigheid.
Ook is daar spore van ’n historiese werklikheid: die karakter van Steenkamp is gebaseer, onder andere, op die Sutherlandse versemaker D C Esterhuyse (vgl Kannemeyer 1998: 249), en op die digterlike visioene van Susanna Smit, oor wie Schoeman ’n boek geskryf het, Die wêreld van Susanna Smit, 1799-1863. Verder is die vertelling van die stryd om grond tussen witmense en Basters kennelik op historiese navorsing gebaseer. Binne die wêreld van die roman baseer Nico ook dit wat hy vertel, op “objektiewe” getuienis: op die uitgawes van Jood en dominee Heyns as “bewys” van hulle bestaan, op sy herinneringe as skoolkind van die onderwyser Jood, en op die kamme van mevrou Heyns as teken van haar “werklike” bestaan.
Uiteindelik is hierdie “getuienis”, hoofsaaklik tydens Nico se besoek aan die dorp versamel, egter ’n bra skamele basis waarop sy verhaal gebou word — totaal onvoldoende vir ’n “betroubare” weergawe van die verlede. Die verlede word dan ook nie soseer weergegee nie as omskep; die versamelde “fragmente” uit die verlede vorm maar ’n klein deeltjie van die verbeelde wêreld wat tot stand gebring word. Nico se omskepping van die verlede blyk uiteindelik ’n sterk subjektiewe verslag te wees, bepaal deur sy persoonlike aard en strewes; en tog is dit van intersubjektiewe waarde.
Die drie vertellers wat hy aan die woord stel, naamlik Jood, dominee Heyns en Danie Steenkamp, is duidelike alter ego’s van Nico (en kan ’n mens byvoeg, is Nico weer ’n alter ego van die skrywer?). Daar is ’n hele aantal skakels tussen die vertellers. Hulle is almal buitestaanders in die gemeenskap; ontuis te midde van twiste en stryd om hulle. Daar is in al die gevalle ’n duidelike verwantskap met Christus die verworpene. Hulle is almal skeppers en kunstenaars van die woord — in die geval van Heyns en Jood, skep hulle (soos Schoeman!) historiese sowel as literêre geskrifte. Sowel Jood as Steenkamp hakkel as hulle opgewonde raak — die hakkel is ’n teken van buitestaanderskap sowel as van die worsteling om te kommunikeer. Die tema van eensaamheid loop deur al die vertellings; homoseksualiteit en mislukte huwelike kom herhaaldelik voor. Die vertellings is verskillende variasies op dieselfde temas.
Wat baie belangrik is, is die progressie wat deur die vertellings plaasvind — inderdaad, “iets het gebeur”. Die eerste verteller wat Nico aan die woord stel, is die selfgesentreerde Jood, die uitgeworpene wat niks méér verlang as erkenning en eie eer nie, wie se vertelling deurspek is met die woorde “ek” en “my”. Hy is so selfbehep dat hy byna geen melding van sy vrou maak nie; vir hom is dit net so goed of sy nie leef nie. Wanneer hy homself vir ’n soort Christus uitgee, met sy eie dissipelkring en ’n “onmeetbare invloed” (bl. 191), dan is hy in werklikheid ’n karikatuur van Christus. En tog, is hierdie “Jood” miskien op ’n vreemde manier wel ’n Christus-tipe, ’n “engel”? Sy belangstelling in die verse van Steenkamp is weliswaar gemotiveer deur die begeerte om eer te ontvang as ontdekker van ’n “volksdigter” maar sy uitgawe van die Steenkamp-gedigte, die enigste ongesensorde uitgawe, is vir Nico ’n kosbare getuienis in sy soektog na Steenkamp. Is selfs die misrabele Jood dalk tog die “draer van ’n heilige vlam” (bl. 191)?
Die volgende verteller, dominee Heyns, is ’n baie aangenamer persoon. Hy is veel meer altruïsties, veel meer beskeie, veel minder krities op ander, en ’n veel betroubaarder verteller. In sy jeug het Heyns ’n mistieke ervaring gehad, wat hy geïnterpreteer het as die roeping van God om in die bediening te gaan. Met verloop van tyd verdoof die vlam van sy jeugdige idealisme, te midde van die twiste en magstryd in die gemeente en die onbegrip van sy vrou. Aan die einde van sy lewe vind daar egter ’n merkbare verdieping by hom plaas. Ook hy het nou, soos Jood, sy “dissipelkring”, maar in sy geval bestaan dit grotendeels uit armes en siekes. Hy begin inderdaad meer soos Christus te lyk, ’n ware bedienaar van die Evangelie aan die hulpbehoewendes. Net voor sy dood gaan besoek hy, ondanks die feit dat hy self siek is, ’n sterwende ou man, om hom te help en te troos. Heyns se lewe eindig in stralende, goue sonlig, teken van die teenwoordigheid van die goddelike (bl. 303), in teenstelling met Jood se dood “in die roerlose stilte en die donker” (bl. 206).
Hierna volg die vertelling van Steenkamp self. Hy, meer as enige van die ander vertellers, is ’n uitgeworpene, maar nie omdat hy daarna gesoek of gemaak het nie, maar omdat hy nie pas in ’n bevlekte wêreld nie. Hy is van gemengde afkoms en het geen kleurgevoel of rassisme nie; hy kom in ’n Sendingkerk tot bekering en sing sy religieuse liedere vir almal wat wil hoor. Hy, meer as die ander vertellers, is ’n Christus-figuur: mense bring hul siekes na hom vir genesing (bl. 316); hy bots met “Fariseërs” en word deur ’n Raad verhoor en veroordeel (bl 324). Hy is verder ’n Dawid, ’n herder wat liedere maak (bl. 326); ’n Moses van wie die staf begin te blom (bl. 313); ’n Samuel wat die goddelike stem hoor (bl. 320); en ’n Elia vir wie God in die natuur sorg (bl. 328). Vir Steenkamp verander die wêreld van die Vrystaat in ’n Bybelse landskap van goddelike aanwesigheid.
Aan die einde van sy lewe, alleen in die natuur met sy God, het Steenkamp nie meer die verskyning van engele nodig nie. Hy ontdek dat God oral is; bo hom as Beskermer, in hom as goddelike inkarnasie en om hom in die natuur. Hierdie visie van God, hierdie versmelting van hemelse en aardse, is waarna Nico van die begin af gesoek het. Terugwerkend in die roman, is Steenkamp se visie die maatstaf waarmee alle ander karakters se lewensiening en sin vir waardes gemeet moet word; sy lewe is die kriterium vir die waarde van elkeen se lewe.
Steenkamp, in sy barmhartigheid teenoor ander, openbaar in sy eie vertelling nie die wandade wat teen hom en sy mense gepleeg is nie. Dit kom deur die vertelling van sy suster uit: hoedat Steenkamp byna doodgeslaan is (bl. 375), en hoedat die grond van die Basters wederregtelik deur die witmense afgeneem is (bl. 376-7). Dit blyk dat die voorspoed van die witmense op diefstal gegrond is en dat hul samelewing op onreg gebou is.
Nico se reis kan (onder andere) op twee maniere gelees word. In die eerste plek is dit ’n ál hoe dieper indring in die verlede, van Nico na Jood na Heyns na Steenkamp; van die moderne tyd tot vroeg in die negentiende eeu, tot by die openbaring van die oorspronklike onreg waarop die huidige samelewing gebou is. Teenoor hierdie onreg staan die suiwerheid van Steenkamp, die man wat “tot onder die gerub ingaan en sy vuiste vul met vurige kole van tussen die gerubs” (bl. 368). Dit is ’n goddelike suiwerheid wat oor die generasies heen ’n uitwerking het en die lewens van Heyns, Jood en Nico aanraak. Geleidelik, van die een figuur na die volgende, raak die vlam egter flouer, tot by Nico, wat ’n sinlose lewe lei in ’n dekadente samelewing.
Maar Nico se reis kan ook gelees word as ’n louterende reis in die self. Tydens hierdie “reis” skil hy as ‘t ware laag op laag van homself af, en gaan al dieper in sy psige, tot by die suiwer bron wat diep verborge lê, die Steenkamp in homself. In sy vertellings, in alter ego op alter ego, herskep Nico homself, al hoe suiwerder, tot by die doel van sy soeke, die heiligheid van ’n Steenkamp. In metamorfose op metamorfose verander hy, beleef hy ’n reis wat inderwaarheid ’n katarsis is.
Hierdie twee maniere van reis staan nie los van mekaar nie. Persoonlike geskiedenis en landsgeskiedenis is nóú verbonde; landsgeskiedenis het sy neerslag op die persoonlike en kollektiewe onderbewussyn gelaat. Nico se reis in die geskiedenis en sy reis in homself is een reis; sy grawe in die geskiedenis en sy grawe in homself, al dieper en dieper, lei uiteindelik tot dieselfde Bron.
Die prosa in Die uur van die engel bars as ’t ware uit sy nate, om die onverwoordbare te verwoord; konvensionele grense van genre word oorskry. Liriek en epiek smelt saam — dit gaan om situasies wat uitgebeeld word, langsaam veranderende situasies, gevul met stemming en misterieuse betekenis. Die trae gang van gebeure is ’n realistiese weergawe van die plattelandse lewenswyse — met daarby die suggestie van verborge, opwindende moontlikhede, vir wie sorgvuldig oplet. Dit is ook asof die roman neig in die rigting van die skilder- (landskaps-) kuns, met ’n veelheid van plastiese beelde, gelaai met simboliek. Verder het die prosa ’n musikale element, met sy ritmiese golwende sinne en sy steeds terugkerende frases. Die afwisselende vertellings van die vroue van Jood en Heyns, in die afdeling “Vrouestemme”, is soos ’n kontrapuntale komposisie, twee kontrasterende variasies op ’n tema. Om by die musikale metafoor te bly: in Die uur van die engel het die skrywer al die orrelpype oopgetrek, om op grootse wyse aan ’n grootse visie uiting te gee.
Bibliografie
Kannemeyer, J C: Op weg na 2000. Tien jaar Afrikaanse literatuur. 1998. Kaapstad: Tafelberg.
Hierdie bespreking is die derde in ’n reeks wat Chris van der Merwe aan LitNet gebied het. Om groter insig te verkry in dít wat volg, koop gerus die April uitgawe van die tydskrif Insig. Daarin spel Chris die paadjie uit wat hy op hierdie ruimte gaan loop.